Monsanto - imagine  
Hoofblad Bladkaart Kontak Ons Help
Produkte en Oplossings Biotegnologie Nuus en Hulpbronne Meer Oor Ons Ons Belofte Loopbaangeleenthede
Nuus
Veiligheid


AANBIEDING DEUR DR KOBUS LAUBSCHER, HOOFBESTUURDER, GRAAN SA, OP WOENSDAG 18 FEBRUARIE 2009, OOR DIE WÊRELDWYE STATUS VAN KOMMERSIËLE BIOTEK/GM-GEWASSE: 2008

Februarie 2009 - REKORD VAN 125 MILJOEN HA BIOTEKGEWASSE IN 2008 WÊRELDWYD AANGEPLANT

Volgens die jongste statistieke vrygestel deur dr Clive James, voorsitter van ISAAA ('n Internasionale Diens vir die Verkryging van Landboubiotek-toepassings) het sowat 13.3 miljoen boere (12 miljoen in 2007) in 25 lande (23) op al ses kontinente 125 miljoen ha (114.3 miljoen) wêreldwyd GM-gewasse aangeplant, 'n toename van 9.4% teenoor 2007.

10 000 HA MEER GM-MIELIES IN RSA AANGEPLANT

Suid-Afrika het sy agste plek in die wêreldranglys van biotekgewaslande gehandhaaf met die aanplant van meer as 1.8 miljoen ha met biotekgewasse, sê dr Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA.

Hy het op 'n perskonferensie in Pretoria gesê volgens 'n opname deur die Mielietrust neem die produksie van GM-gewasse in Suid-Afrika toe teen 'n indrukwekkende tempo. Die plant van GM-mielies het in 2008 toegeneem met 10 000 ha ten spyte van 'n afname van feitlik 8% in die oppervlak wat kommersieel met mielies beplant is, sojabone met 40 000 ha en katoen met 2 000 ha.

Die markaandeel van GM-gewasse in 2008 – mielies, soja en katoen – het verhoog terwyl die oppervlak toegeneem het tot 1.8 miljoen ha, ongeveer dieselfde as in 2007 en 30% meer as 2006. Mielies – wit en geel – was bo-aan die lys met 1.617 miljoen ha of 62% van die totale mielie-area (57% in 2007).

Van die 1.6 miljoen ha witmielies was 56% of 891 000 ha uit die biotekstal, verteenwoordigend van 579 000 ha Bt-insekweerstandig, 148 000 ha onkruiddoderverdraagsaam, en 164 000 ha met gekombineerde (“stapelgeen”) eienskappe. Wit mielies het effens afgeneem teenoor 2007 tot 891 000 ha in 2008 vanweë 'n vermindering in die oppervlak witmielies wat aangeplant is.

Van die 1.0 miljoen ha geelmielies was 72% of 724 000 ha biotekmielies waarvan 455 000 ha Bt, 131 000 ha onkruiddoderverdraagsaam en 138 000 ha met stapelgeeneienskappe.

Van die beraamde 230 000 ha sojabone was 184 000 ha of 80% biotek, alles onkruiddoderverdraagsaam. Van die totale katoenaanplantings van 13 000 ha, was 12 000 ha (of 90%) biotek, bestaande uit 83% met stapelgeen, 9% met verdraagsaamheid vir onkruiddoders en 7% Bt van die totale biotekaandeel.

Uit die 19%-aandeel van stapelgeeneienskappe van mielies, viervoudig hoër as in 2007, en die oorheersing van stapelgeeneienskappe by katoen, is dit duidelik dat die kombineer van GM eienskappe verskeie beperkinge op verhoogde produktiwiteit effektief aanspreek.

Die totale oppervlak onder biotekgewasse in Suid-Afrika het teen 'n vaste koers toegeneem van 197 000 ha in 2001 tot 573 000 ha in 2004, en 'n rekord van 1.8 miljoen ha in 2008 bereik.

EKONOMIESE VOORDELE VIR BOERE

Suid-Afrikaanse boere – kommersieel en kleinboere – het betekenisvolle finansiële voordele uit biotekgewasse geput met 'n totaal van VS$383 miljoen in 1998-2007 (Brookes en Barfoot, 2008).

'n Ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Mielietrust (Gouse en Van der Walt, 2008) het getoon dat 'n totaal van 15 miljoen metrieke ton GM-mielies oor nege jaar (2000-2008) op 4.2 miljoen ha geproduseer is. Bereken teen 'n gemiddelde oesopbrengsvoordeel van 10.6%, (Gouse en Kirsten 2003) en bereken teen gemiddelde graanpryse oor dié tydperk, het mielieprodusente 'n bykomende inkomste van R2 miljard (VS$ 267 miljoen) verdien.

Aangesien mielies 'n stapelvoedsel is vir miljoene Suid-Afrikaners, en ook buite ons grense, is dit interessant om daarop te let dat 40 miljoen Suid-Afrikaners jaarliks op die een of ander manier GM-voedsel gebruik het sonder enige medies of wetenskaplik gestaafde nadelige uitwerking op mense, diere of die omgewing.

Kleinskaalboere het eweneens finansiële voordeel behaal uit biotekgewasse deur hoër oeste van 31% meer as die konvensionele en 134% meer as oopbestuifde variëteite (Gouse et al, 2005).

TOEKOMSTIGE NAVORSINGSONTWIKKELING IN BIOTEGNOLOGIE

Etlike gevorderde biologietegnologie-navorsingsprojekte in Suid-Afrika sluit in:

  • Droogteverdraagsaamheid en streepvirusweerstandigheid by mielies;
  • Bio-gefortifiseerde GM-sorghum;
  • Verhoogde insek- en onkruiddoderweerstandige mielies;
  • Aartappelmot- en virusweerstandige aartappels;
  • Droogteverdraagsame soja- en grondbone; en
  • Mielies met verdraagsaamheid teen twee onkruiddoders.

AFRIKA

Belowende vordering met biotekgewasse vind in Afrika plaas waarin Suid-Afrika sy ryke gewas- en biotegnologie-ondervinding met Afrikalande deel.

Egipte het in 2008 die tweede land ná Suid-Afrika geword wat 800 ha biotekmielies kommersieel aangeplant het met 'n Suid-Afrikaans-ontwikkelde Bt-mieliebaster. Burkina Faso het 8 500 ha Bt-katoen geplant gesteun deur Suid-Afrikaanse kundigheid met saad wat in Suid-Afrika vermeerder is. Mali volg in hul spore.

Malawi het sy Nasionale Biotegnologiebeleid goedgekeur en Kenia sy Wet op Bioveiligheid. Kenia het, met steun van Suid-Afrika, reeds etlike jare lank ingeslote proewe met Bt-katoen en mielies by navorsingstasies onderneem. Uganda het in 2008 met proewe met GM-piesangs begin.

WÊRELDWYD

Volgens die ISAAA-verslag, het dr Laubscher gesê, het die wêreld se totale hektaar met biotekgewasse in die tydperk 1996 tot 2008 die eerste keer 2 miljard akker (800 miljoen ha) oorskry. Dit het 10 jaar geneem om die eerste miljard akker te oorskry maar net drie jaar om die tweede miljard akker te bereik. Van die 25 lande wat biotekgewasse verbou, is 90% van die 13.3 miljoen betrokke boere in 15 ontwikkelende lande.

'n Belangrike feit is dat biotekgewasse gelei het tot die afname van 359 000 ton aktiewe bestanddele in plaagdoders.

Die VSA loop nog voor in die wêreld met 65.5 miljoen ha onder biotekgewasse, gevolg deur Argentinië met 21 miljoen, Brasilië met 15.8 miljoen en Indië en China met 7.6 miljoen ha elk.

Bykomend tot die 25 lande wat biotekgewasse kommersieel verbou, het nog 30 lande regulatoriese goedkeuring verleen vir die invoer van biotekgewasse vir voedsel- en veevoerverbruik.

Sewe EU-lande het hul hektaar onder BT-mielies met 21% vergroot tot 107 000 ha (88.673 ha in 2007). Spanje loop voor met bykans 80 000 ha.

Bioteksoja het wêreldwyd die belangrikste biotekgewas gebly met 65.8 miljoen ha, gevolg deur mielies met 37.3 miljoen ha en katoen met 15.5 miljoen ha. 'n Nuwe biotekgewas, onkruiddoderverdraagsame suikerbeet, is in die VSA en Kanada gekommersialiseer.

Onkruiddoderverdraagsaamheid wat in soja, mielies, kanola, katoen en lusern ontplooi is, het 65% van wêreldwye GM aanplantings behels. Stapelgeenprodukte as groep het tussen 2007 en 2008 verreweg die grootste groei – 23% -- getoon.

Die grootste toename in die getal bevoordeelde boere in 2008 was in Indië waar 'n bykomende 1.2 miljoen kleinboere Bt-katoen geplant het. 'n Totaal van 5 miljoen Indiese kleinboere het 7.6 miljoen ha Bt-katoen aangeplant, wat 'n aanvaardingskoers van 82% gee.

Die GM-produksiegroei van 32 miljoen ton in 2007 sou 'n bykomende 10 miljoen ha grond vereis het as biotekgewasse nie ontplooi is nie. Produksiestyging uit biotekgewasse in 1996 tot 2007 was 141 miljoen ton. Teen die gemiddelde opbrengste van 2007 sou dit 43 miljoen addisionele ha vereis het, was dit nie vir biotekgewasse nie.

Kontak Dr Wynand van der Walt vir verdere inligting by FoodNCropBio Consulting Services, telefoon 012 324 6334/ 083 468 3471.