Monsanto - imagine  
Hoofblad Bladkaart Kontak Ons Help
Produkte en Oplossings Biotegnologie Nuus en Hulpbronne Meer Oor Ons Ons Belofte Loopbaangeleenthede
Nuus
Veiligheid


Mielieprodusente moet voortaan gereed maak vir inspeksie op plaasvlak Kobus Steenekamp, Bemarkingsbestuurder Chemies en Biotegnologie, Monsanto

Oktober 2008 - Gewas-biotegnologie het ‘n nuwe dimensie in graanverbouing na vore gebring. Geen-eienskappe soos onkruiddoderverdraagsaamheid of Roundup Ready®-gewasse, en stamboorderbeskerming of YieldGard®-gewasse, is die afgelope aantal jaar in mielies, sojas en katoen in Suid-Afrika beskikbaar.  Die tegnologie verhoog nie net opbrengs nie, maar bied ook verskeie ander bestuurs- en omgewingsvoordele aan die produsent.

Sowat 57% van die 2007/08 seisoen se mielie-aanplantings (hektare) het geen-eienskappe bevat teenoor 47% in 2006/07. Díe syfer gaan na verwagting tot meer as 63% styg in die komende plantseisoen. Die komende seisoen sal ook die tweede seisoen wees waar stapelgeenmieliebasters wat beide YieldGard en Roundup Ready tegnologië bevat, aangeplant sal word. Die graanprodusent kry nou al dié voordele in een mielie-baster. Die tegnologië is beskikbaar in mieliebasters van AFGRI SAAD, DEKALB, LINK SAAD, PANNAR en PIONEER.

Om die voordele volhoubaar te benut, is daar egter twee uitdagings wat die bedryf gesamentlik moet aanspreek - dit is die voorkoming van onkruiddoder- en insekweerstand, spesifiek stamboorderweerstand. Deur die algemene aanvaarde voorskrifte te volg kan graanprodusente die tegnologie se lewensduur verleng. Dit sluit die gebruik van alternatiewe onkruidoders (soos bv asetaniliedonkruiddoders) in Roundup Ready -stelsels in, en die aanplant van toevlugsareas in die geval waar YieldGard-tegnologie gebruik word. Laasgenoemde word volgens wet verplig.

Vereistes vir ‘n korrekte toevlugsarea

  1. Die toevlugsarea bestaan uit ‘n gebied wat met mielies beplant word, wat nie die YieldGard-geentegnologie bevat nie.
  2. Daar is twee opsies wat gevolg kan word:
    • 80% YieldGard-mielies met ‘n 20% toevlugsarea waar chemiese stamboorderbeheer in die toevlugsarea mag plaasvind met produkte wat onverwant is aan Bt.
    • 95% YieldGard-mielies met ‘n 5% toevlugsarea waar geen chemiese stamboorderbeheer in die die toevlugsarea mag plaasvind nie.
  3. Geen YieldGard mielie mag verder as 400 meter wees van die toevlugsarea nie.
  4. Die toevlugsarea en die YieldGard-mielies mag nie meer as sewe dae uitmekaar geplant word nie.
  5. Die toevlugsarea-mielies en die YieldGard-mielies moet ook van basters met dieselfde groeiseisoenlengte wees.
  6. Die YieldGard-mielies en toevlugsarea-mielies kan nie in die planterbakke gemeng word om te dien as toevlugsarea nie. Die stamboorders sal in so ‘n geval groot word op die nie-YieldGard plante en oorloop na die YieldGard-plante en sodoende nie beheer word nie.
  7. Daar moet ‘n toevlugsarea op elke plaas wees. Die buurman se mielies dien nie as ‘n toevlugsarea nie.
  8. Die YieldGard-mielies en die mielies in die toevlugsarea moet onder dieselfde agronomiese toestande geplant word, bv. as die YieldGard besproei word moet die toevlugsgebied ook besproei word. Dieselfde plaagbeheerpraktyke moet ook gevolg word.
  9. Die toevlugsarea moet minstens 6 rye wyd wees en kan op die kant van die land of as stroke deur die land aangeplant word, afhangend van die wydte van die land.

Waar van YieldGard gepraat word, sluit dit die stapelgeenbasters in en waar van ‘n toevlugsarea gepraat word sluit dit Roundup Ready basters in. Vir YieldGard-basters (B-agtervoegsel) word konvensionele basters as toevlugsarea aanbeveel en vir stapelgeenbasters (BR-agtervoegsel) word Roundup Ready basters (R-agtervoegsel) aanbeveel sodat onkruidbeheerprogram oor die totale hektare toegepas kan word.

Na-plant inspeksie van toevlugsareas

Plaasvlakinspeksies word nou vir die eerste keer in die vooruitsig gestel om seker te maak dat mielieprodusente aan die toevlugsareavoorskrifte voldoen. Die inspeksie strek oor meer as een seisoen en stapsgewys kan dit so saamgevat word:

2008/2009 Mielie-aanplanting:

  1. ‘n Hoeveelheid kliënte, byvoorbeeld 200, word ewekansig gekies en ‘n onafhanklike inspekteur kry aankooprekords vanaf die betrokke saadmaatskappye en reël afsprake met kliënte.
  2. Die onafhanklike inspekteur sal die gekose kliënte vanaf Januarie tot Maart 2009 besoek.
  3. Die inspekteur kies dan ewekansig een of meer lande van die kliënt om fisies te besoek en te evalueer of aan al die voorskrifte soos vroeer in die artikel bespreek, voldoen is.
  4. Die saadverskaffer maak kontak met kliënt A indien voorskrifte nie nagekom is nie.

Stappe 1 – 4 sal jaarliks herhaal word.

2009/2010 Mielie-aanplanting:

  1. Kliënt A wat nie aan die voorskrifte tydens die 2008/09 plantseisoen voldoen het nie, word outomaties ingesluit in die 2009/2010 evaluasie-groep.
  2. Kliënt A sal nou ‘n volledige beplanningsdokument moet indien voor aanvang van die plantseisoen in samewerking met betrokke saadmaatskappy om soedoende te verseker dat toevlugsarea-voorskrifte nagekom word.
  3. Plaasinspeksies word uitgevoer op een of meer lande tydens Januarie tot Maart 2010.

Stappe 1 – 3 geld vir kliënte wat nie aan die voorskrifte voldoen het nie.

2010/2011 Mielie-aanplanting:

  1. ‘n Kliënt wat tydens die 2008/2009 seisoen nie voldoen het aan die voorskrifte, en dan verder nie gehoor gee aan die indiening en nakoming van die beplanningsdokument vir die 2009/2010 plantseisoen nie, kan toegang tot die tegnologie in 2010/2011 geweier word.

Dit impliseer dat geen Monsanto geentegnologië van die betrokke gewasse (mielies, katoen en sojabone) aangekoop kan word, alvorens ‘n opleidingsprogram/rehabilitasie ondergaan is nie. Dit is baie belangrik dat alle kliënte toegang sal hê tot nuwe tegnologië soos droogteverdraagsaamheid en verbeterde stikstofbenutting, maar dat daar in alle gevall verantwoordelik met die tegnologie omgegaan moet word.

Speel volgens die reëls en beskerm die tegnologie vir môre!

Lisensie-maatskappye ondersteun hierdie inisiatief.

Vir enige navrae kontak gerus u saadverskaffer of Monsanto by 011-790 8200.