|
12 Mei, 2009 Monsanto - Nuusverklaring: Verdere inligting oor die bestuiwingsvariasies wat die afgelope seisoene in drie DEKALB-witmieliebasters in Suid-Afrika voorgekom het
Soos voorheen gerapporteer het drie witmieliebasters die afgelope plantseisoen (DKC78-35R, DKC78-45BR en DKC77-71R) bestuiwingsvariasies getoon. Na aanleiding van Monsanto se ondersoeke in die verband, blyk dit dat daar gemiddeld sowat 25 % opbrengsverlies voorgekom het as gevolg van dié bestuiwingsvariasies.
In ‘n poging om die oorsaak van die bestuiwingsvariasies te bepaal, het Monsanto verskeie intensiewe ondersoeke, waarnemings en navorsing gedoen. Deel van die navorsing het ook sekere evaluasies ingesluit om vas te stel of die geeneienskappe (YieldGard® en Roundup Ready®) in die basters enige invloed gehad het op die bestuiwingsvariasies. Die inligting wat bekom is, bewys onteenseglik dat die biotegnologie-eienskappe nie die oorsaak van die bestuiwingsvariasies was nie.
Verdere evaluasies is ook gedoen ten opsigte van die drie betrokke basters asook die ouerlyne wat in hulle saadproduksies gebruik word, en daar is vasgestel dat die bestuiwinsvariasies veroorsaak is deur ‘n situasie wat in die natuur voorkom, wat bekend staan as sistoplasmiese manlike steriliteit (cytoplasmic male sterility (CMS)). Hierdie natuurlike proses beheer bestuiwing deurdat die plant steriele stuifmeel produseer. CMS kom voor in meer as 150 plantspesies, wat baie gewasse insluit, en is ook al vir meer as 80 jaar bekend in mieliesaadproduksies. Hier word die proses reeds jare gebruik om die arbeidsintensiewe praktyk waar die pluime wat die stuifmeel vervaardig met die hand van die vroulike ouerlyn verwyder moet word in produksielande. Hierdie praktyke (ontpluiming of die gebruik van CMS) verseker dat slegs die manlike ouerlyn die vroulike lyn kan bestuif – dit is kardinaal in basterproduksie om suiwerheid en gehalte te verseker.
Monsanto het reeds bekend gemaak dat die drie betrokke basters geproduseer is deur die manlike en vroulike lyne om te ruil. CMS kan slegs deur die vroulike ouerlyn oorgedra word. Die vroulike ouerlyn wat in die produksie van die drie basters gebruik is, het CMS bevat en dit is nie voorheen waargeneem nie. Hierdie proses, in kombinasie met ander faktore soos onder andere weersomstandighede en boerderypraktyke, het veroorsaak dat minder stuifmeel in die drie basters geproduseer is. Dit het dus die stuifmeelvariasies in die drie basters op sommige plase veroorsaak wat ‘n laer opbrengs tot gevolg gehad het.
In die toekoms, sal die ouerlyn wat CMS bevat, nie weer as die vroulike ouerlyn in basterproduksie gebruik word nie. Monsanto het al die wit- en geelmielieprodukte wat in Suid-Afrika verkoop word, getoets vir die teenwoordigheid van CMS, en kan bevestig dat dit slegs voorgekom het in die vroulike ouerlyn van die drie basters ter sprake.
|