BESTUIWINGSVARIASIE IN MIELIES OPGELOS
Bestuiwingsproewe wat die afgelope seisoen, 2009/10, deur verteenwoordigers en landboukundiges van Monsanto met die GM-stapelgeen DKC78-45BR gedoen is, het bo alle twyfel bewys dat die variasieprobleem wat in die 2008/09-seisoen ondervind is nie ‘n GM-probleem was nie maar ‘n genetiese afwyking wat ontstaan het met die omruil van die ouerlyne. Dié probleem is nou uitgestryk en saad van DKC78-45BR – een van die gewildste kultivars op die mark – is weer vanaf die komende 2010/2011-seisoen beskikbaar.
Twee verteenwoordigers van Graan SA wat op uitnodiging van Monsanto die proewe besigtig het, sê hulle het kennis geneem van die aksie wat Monsanto geneem het om die probleem met die bestuiwingsvariasie op te los en is tevrede dat die probleem nou reggestel is.
Mnr Pottie Potgieter, mielieprodusent van Bothaville, hoofbestuurslid van Graan SA en voorsitter van die produksie-insetwerkgroep van Graan SA, sê die proewe is op ‘n deursigtige en geloofwaardige wyse gedoen en staaf Monsanto se aanvanklike verduideliking dat die bestuiwingsvariasie ‘n fout met die teling van die saad was.
“Uit die oogpunt van ‘n produsent is ek baie dankbaar en verheug dat die mielies nou weer normaal bestuif. Dié mieliekultivar is een van die gewildstes. Ek was uit die staanspoor betrokke by die ondersoek na die probleem. Ek self het geringe skade gely maar my een buurman het 60% skade gely. Boere was op die ou end baie tevrede met die skikkingspakket wat Monsanto aangebied het. Ek is bly die betrokke kultivar is weer die komende seisoen beskikbaar en ek gaan beslis ’n deel van my aanplantings daarmee plant,” het Potgieter beklemtoon.
Mnr Corné Louw, senior landbou-ekonoom, insette, van Graan SA, sê die proewe bevestig onomwonde Graan SA se aanvanklike verklaring, toe die probleem kop uitgesteek het, dat die bestuiwingsvariasie nie ’n GM-probleem was nie maar ’n telingsprobleem. “Dit moet beklemtoon word,” het hy bygevoeg.
Gedurende die 2008/09-seisoen is bestuiwingsvariasies op drie wit -kultivars hoofsaaklik in die westelike graanverbouingstreek van die land ervaar. Daarmee gepaard was die teenwoordigheid van geel pitte op die koppe ook ’n aanduiding van ’n lae teenwoordigheid van stuifmeel.
Die bestuiwingsvariasies kan toegeskryf word aan die omruiling van die ouerpare tydens die produksie van die betrokke produkte se bastersaad.
Verdere toetsing van die kultivars het bevind dat die variasie veroorsaak is deur ‘n sitoplasmiese genetiese eienskap bekend as Sitoplasmiese Manlike Steriliteit (CMS). Dit veroorsaak dat minder stuifmeel vorm en dat die stuifmeel steriel is. Nadat die probleem geïdentifiseer is, het Monsanto die boere 100% vergoed vir hul verwagte opbrengsverlies
Met die nuwe 2009/10-produksie van die Roundup Ready-kultivars is die twee ouerlyne weer teruggeruil. Gevolglik is 50 sy-aan-sy blokproewe met die reggemaakte DKC78-45BR sonder die CMS en die ou DKC78-45BR in verskillende distrikte van die westelike graanverbouingstreek geplant.
Voorlopige bestuiwingsevaluasies het soos dag en nag verskil. Die gemiddelde geweegde persentasie sigbare kopbedekking van die kultivar sonder CMS was 99.9% teenoor 94.6% van die ou kultivar met CMS. Die verskil is statisties betekenisvol.
Daar was ook ’n verskil in die teenwoordigheid van geel pitte per kop tussen die twee weergawes van die kultivar. Met CMS was daar gemiddeld 1.37% geel pitte en sonder CMS 0.04%. Al die koppe van die nie-CMS kultivar was ten volle bestuif.
“Uit die voorlopige bestuiwingsdata van die proewe is alle aanduidings dat die bestuiwingsvariasie wat ervaar was opgelos is met die terugruil van die ouerlyne tydens die produksie van die bastersaad. Die nuwe produksie van DKC78-45BR sonder CMS toon geen tekens van variërende bestuiwing nie. Die saad wat die komende seisoen beskikbaar sal wees, is geproduseer deur die ouerlyne terug te ruil soos in die proewe gedoen is en sal dus nie CMS bevat nie,” sê mnr Pieter Smit, landboukundige en tegnologie-ontwikkelingsverteenwoordiger van Monsanto, wat aan die hoof van die proewe gestaan het.
Vir nadere inligting skakel Andrew Bennett, tegnologie-ontwikkelingsbestuurder, Monsanto. T 011 790 8213. |