|
Grondboonboere Aangemoedig Om Ag Te Slaan Op Toelaatbare Vlakke Vir Chemiese Residue Op Grondbone Bestem Vir Uitvoere
Desember, 2003 - Mnr. Bully Botma, Voorsitter van Graan SA het grondboonprodusente gemaan om ag te slaan op die maksimum toelaatbare vlakke vir chemiese residue op grondbone wat bestem is vir die uitvoermark na onder andere die Europese Unie en Japan. Dit sluit in onkruid-, insek- en swammiddels wat toegedien word.
"Grondboonprodusente sal vanaf 2004 "Goeie Landboupraktyke" moet toepas wat insluit dat nougeset rekord gehou word van chemiese- en bemestingsprogramme. Produsente sal ook in oorleg met verwerkers/uitvoerders in ag moet neem wat die minimum vereistes vir chemiese residue is vir die land waarheen uitgevoer word en produksiepraktyke daarby aanpas," sê mnr. Botma.
"Grondbone word jaarliks van Suid-Afrika na die Europese Unie uitgevoer. Aanduidings is dat beheermaatreëls in 2004 streng deur die Europese Unie toegepas sal word en indien produkte nie aan die minimum vereistes voldoen nie, invoere van Suid-Afrikaanse grondbone verbied kan word. 'n Beroep word op produsente gedoen om by die wagperiode en dosis op die etiket van chemiese middels wat in die RSA in terme van Wet 36 van 1947 op grondbone geregistreer is, te hou. Uitvoerders sal ook sorg moet dra dat slegs grondbone wat voldoen aan die voorgeskrewe minimum standaarde, na die Europese Unie en Japan uitgevoer word," aldus mnr. Botma.
Internasionale marktoegang hang grootliks af van die mate waarin daar aan sanitêre-, fito-sanitêre- en gehaltestandaarde wat deur die invoerlande en kliënte bepaal word, voldoen word. Ingevolge nuwe wetgewing van die Europese Unie wat vanaf 1 Januarie 2004 geïmplementeer word, word minimum vereistes vir die produksie van "veilige voedsel" gestel. Vir volhoubare marktoegang tot Europese markte sal die Suid-Afrikaanse grondbonebedryf dus aanpassings moet maak ten einde aan die minimum vereistes vir "veilige voedsel" te voldoen. Dit sluit in "Goeie Landboupraktyke" (GAP) op plaasvlak en "Goeie Verwerkingspraktyke" (HACCP) op verwerkingsvlak. Die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet nr. 119 van 1990) maak voorsiening dat alle grondbone vir die uitvoermark getoets word vir aflatoksien. 'n Oudit vir die toets van chemiese residue word reeds as deel van die uitvoersertifiseringstelsel toegepas.
Kennis is geneem van die persvrystelling op 8 Desember 2003 deur die SA Grondboneforum, waarin besonderhede van toelaatbare vlakke vir chemiese residue op grondbone wat vir die uitvoermark bestem is, uiteengesit word. Hierdie data word vir kennisname aangeheg en is ook beskikbaar op die Graan SA webblad by www.grainsa.co.za. Hierdie data is saamgestel deur die SA Grondboneforum in oorleg met rolspelers in die bedryf en sal jaarliks opdateer word. Navrae oor die aanwending en wagperiodes van chemiese middels kan ook direk aan verskaffers gerig word.
Backgrounders:
Sa Grondboneforum - Desember 8, 2003 (.pdf 58K)
Chemical Data (.pdf 66K)
|