|
Vir geen-bewerking om suksesvol te wees, moet 'n minimum van 30% van die vorige gewas se plantoorskotte teenwoordig wees ten tyde van aanplanting. Daar is drie basiese dinge wat 'n geen-grondbewerkingsboer MOET hê: 'n besondere goeie planter wat spesifiek vir die taak ontwerp is; 'n goeie spuit wat met die regte spuitnawe toegerus is, 'n strooikapmasjien aan die agterkant van die stroper om die strooi te versprei. Dit is belangrik om daarop te let dat alvorens met geen-bewerkingspraktyke begin kan word, die grond pH, suurversadiging en die vrugbaarheid van die grond, insluitende P tot op 'n diepte van ten minste 300 mm, reggestel moet word en grondkompaksielae opgebreek moet word.
Die grondbewaringswerk wat by die Kleingraaninstituut op koringproduksie gedoen word, het getoon dat 'n aansienlike bedrag geld gespaar kan word wanneer daar van bewaringsgrondbewerkingspraktyke gebruik gemaak word. Dit is 'n maklike en eenvoudige manier om geld te bespaar deur slegs sommige meganiese grondbewerkingsbehandelings met chemies-beheerde behandelings te vervang. Die bewaringswerk wat deur die NO-TILL KLUB in Natal gedoen word, het tot groot koste-besparing oor die jare gelei en moedig meer boere aan om na bewaringsgrondbewerking oor te skakel en aan die einde van die dag na die metode van geen-grondbewerking. Onthou dat dit 'n groot stap is om te neem van konvensionele grondbewerking na geen-grondbewerking. "n Mens moet basies 'n Paradigma skuif ondergaan.
|  |
|