|
'n Ontwikkelingsprojek vir kleinboere langs Swaziland se grens het pas binne Monsanto 'n internasionale toekenning ontvang as beste ontwikelingprojek ter wêreld. 'n Tjek van R70 000 is verlede week by die Mlondozi-oesdag aan die gemeenskap oorhandig. Die geld is deel van die toekenning vir die beste ontwikkelingsprojek in 'n ontwikkelende land deur Monsanto.
Die Mlondozi Landcare-projek het vier jaar gelede begin as 'n vennootskap tussen die kleinboere in dié gebied, 50 km suid van die Oshoek-grenspos, Mpumalanga se Departement van Landbou, Bewaring en die Omgewing, die LNR-instituut vir Grond, Klimaat en Water, en Monsanto.
Die projek is daarop gemik om ekonomiese geleenthede deur landbou in die afgeleë gebied te skep. Graanverbouing is een van die primere praktyke wat beoefen word en daarom word daar ook baie klem op goeie grondbewaringstegnieke geplaas. Aanvanklik het 18 boere in 1999 deelgeneem aan die projek terwyl daar die afgelope seisoen sowat 375 daaraan deelgeneem het.
Die boere, wie se gemiddelde opbrengs mielies altyd 0,5 ton per hektaar was, spog nou met opbrengste van tot 3 en 4 ton per hektaar en daar is selfs boere wat tot 9 ton per hektaar op droeland kon afhaal. Sowat 1 500 boere oor 'n oppervlak van 4 500 ha sal uiteindelik by die projek betrokke wees.
Die grondgehalte is deur bekalking verbeter en om erosie te help bekamp, is boere geleer om kontoere te skep. Terselftertyd is geenbewerkingpraktyke ingestel. Dit het nie net erosie help bekamp nie, maar ook tot beter waterbenutting en kostebesparings gelei. Boere is ook geleer om die aanplanting van mielies met sojabone en droë bone af te wissel.
By die oesdag is die eerste van twee geboue, geskenk deur die Mpumalanga landbou-ontwikkelingskorporasie, ook oorhandig. Die geboue sal met die hulp van die landbou-maatskappy, Afgri, as koöperasies benut word om aankope en bemarking van produkte te vergemaklik.
Die Mlondozi-projek is 'n uitstekende voorbeeld van 'n suksesvolle ontwikkelingsprojek wat deur vennootskappe en spanwerk moontlik gemaak is," het dr. Baldur Koch van die provinsiale landboudepartement gesê. Altesaam 16 organisasies het al 'n bydrae tot die projek gelewer en dit is een van 140 grondsorgprojekte in die land.
|