 | Daar is talle voordele daaraan verbonde om sulke gewasse te kweek en dit kan op meeste vlakke van die samelewings 'n werklikheid word. Eerstens trek produsente voordeel omdat insetkoste en bestuurstyd verminder word. Gewasse wat teen insekte beskerm is, benodig nie soveel insekdoders nie en dit is baie makliker om onkruidbeheer, met onkruidbestande gewasse, te bestuur. Boonop lewer die verhoogde doeltreffendheid van beide insek- en onkruidbeheer, oor die algemeen, groter opbrengste.
Die verminderde gebruik van insekdoders hou ook 'n direkte voordeel vir die omgewing in, aangesien laer volumes van produkte wat as "omgewingsonvriendelik" bestempel is, benodig word om dieselfde of hoër opbrengste te lewer. Indirek lei dit ook tot besparings in energie - aangesien minder plaagdoders vervaardig hoef te word, kom dit neer op laer brandstofverbruik met betrekking tot die vervoer en verspreiding van hierdie chemikalieë. In die VSA, te danke aan boere se keuse van insekbeskermde katoen, is 'n beraamde 2, 2 miljoen liter brandstof op hierdie manier gespaar. Verder is groot besparings ook moontlik wat betref die gebruik van water, beide in die proses van plaagdodervervaardiging, asook direk, aangesien minder aanwendings nodig is. Tydens dieselfde studie wat in die VSA onderneem is, is 'n waterbesparing van 3,5 miljard liter bereken. Die vermindering van die impak van boerdery op die omgewing sal nie tot die boere se voordeel alleen strek nie, maar tot dié van die hele samelewing.
In die ontwikkelde wêreld, is daar 'n oormaat voedsel. Ongelukkig kan dieselfde nie van die ontwikkelende wêreld gesê word nie. Oor die afgelope 60 jaar, het die wêreldbevolking vanaf 2 tot 6 biljoen toegeneem. Na verwagting, gaan dit met nog sowat 2 biljoen toeneem binne die volgende 20 jaar. Omtrent 90% van hierdie toename gaan na verwagting in die ontwikkelende wêreld (Asië, Afrika en Latyn-Amerika), voorkom. Mielie-opbrengste in die ontwikkelde wêreld werk uit op gemiddeld 10-15 ton/hektaar; in Afrika beloop die gemiddelde opbrengs 1.4 ton/hektaar. Dit is maklik om te verstaan waarom daar 800 miljoen ondervoede mense in die ontwikkelende wêreld is. Meeste mense sal saamstem dat daar, op 'n volhoubare manier, voldoen moet word aan die aanvraag na voedsel in die ontwikkelende wêreld. Infrastruktuur, om die lewering van die Weste se surplusproduksie aan die ontwikkelende wêreld te steun, ontbreek en daar word inderdaad bereken dat slegs 10 tot 20% van die voedselhulp die beoogde teikengroep bereik, ten tye van hongersnood. Die antwoord is om boere in die ontwikkelende wêreld toe te rus om hulle eie voedsel op 'n volhoubare manier te vervaardig, daar waar dit benodig word. Biotegnologie maak deel uit van hierdie oplossing. Biotegnologie kan die "vereistes" vir hoër opbrengste en voedselgehalte verpak in sogenaamde "slim" sade, wat gewasse produseer wat daartoe in staat is om droogtetoestande te weerstaan, asook onkruid- en insekaanvalle. Sodoende word die noodsaaklikheid van aanvullende gewasinsette, soos insekdoders wat dikwels baie duur is, uitgeskakel.
Boere in Suid-Afrika is in die benydenswaardige posisie dat hulle van hierdie tegnologieë gebruik kan maak, indien hulle wil. Die GMO-wet bied streng regulering wat die goedkeuring en gebruik van hierdie gewasse betref, en beide kommersiële en kleinboere het reeds die produksievoordele van sodanige gewasse besef. Noord van die Limpopo neem die steun vir biotegnologie ook toe. Lande soos Zimbabwe, Nigerië, Kenia, Uganda, Burkino Faso en Egipte is vinnig besig om wetgewing in plek te kry sodat hierdie tegnologieë deur hulle boere gebruik kan word. Wat nog meer verblydend is, is die feit dat 'n biotegnologiese vermoë ook geskep word, wat sal uitloop op 'n "Afrika-kapasiteit" om hierdie tegnologieë in te span. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Keniaanse patatprojek, waarin virusbestande patats ontwikkel is deur gebruik te maak van plaaslike kundigheid en vermoë. In Suid Afrika, steun 'n onlangs-voorgestelde Biotegnologie-beleid ook die opbou van wetenskaplike vermoë in hierdie veld, en die Regering het sowat R182 miljoen bewillig om dit van die grond af te kry.
Ongelukkig is sekere Europese markte (verbuikers) teensinnig om voedsel wat deur middel van hierdie tegnologieë geproduseer word, te aanvaar, hoewel 'n onlangse EU Kommissie-verslag bevind het dat geneties gemanipuleerde (GM)-produkte net so veilig is, indien nie veiliger nie, as konvensionele produkte. Hierdie bevinding berus op 15 jaar se studie op 81 verskillende projekte, wat 64-miljoen VSA dollar gekos het. As gevolg hiervan het kunsmatige handelsbelemmerings ontwikkel, met die Namibiese rooivleis-geval die bekendste voorbeeld. Namibië voer nie Suid-Afrikaanse graan in nie aangesien dit hulle Europese uitvoermark in die gedrang sal bring. Suid-Afrikaanse graan kan GM-produkte bevat. Dit is irrelevant dat geen spoor van hierdie produkte in die vleis self gevind word nie.
Ter afsluiting, die geweldige voordele vir alle vlakke van die samelewing wat kan voortspruit uit landbou-biotegnologie, veral in die ontwikkelende wêreld, sal heel moontlik lei tot die algemene aanvaarding van sodanige produkte en tegnologieë oor die mediumtermyn. Suid-Afrika se eerste kommersialisering van 'n biotegnologiese oes was in 1998, en sedertdien het die aanvaarding daarvan bestendig toegeneem. Ten spyte van die handelsbelemmerings, bestaan daar beide plaaslike- en uitvoermarkte vir hierdie produkte. Soos die bevolkingsaanwas en daarmee saam die aanvraag na kos toeneem, so neem die vraag na veilige voedsel teen laer kostes ook toe.
|